Vervreemding in die ekstreem: ’n Oorsig oor normloosheid en sosiale isolasie in Afrikaanse ekstreme metal
Burgert A. Senekal
Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans
Universiteit van die Vrystaat
Voice of Destruction (V.O.D.) is in die middel-1980’s deur Greg McEwan gestig,en Francois Breytenbach en Paul André Blom het in 1989 by V.O.D. aangesluit vanuit die groep Moral Decay (1986 gestig) en Uncle Vinnie9 (1989), tesame met Diccon Harper van Phoenix (Darkfiend 2009).
Demonstratiewe opnames (demo’s) soos “The seventh” (1990), “Black cathedral” (1992), “The death of Africa” (1993), en “Finale dead” (1994) is vrygestel. In 1994 het “Black cathedral” nommer een op die Sweedse Heavy Metal-trefferlys bereik. In 1995 het V.O.D. na Londen verhuis, en in 1996 is die album Bloedrivier opgeneem, wat ’n paar liedjies van die vorige jaar se midlengte-opname (EP) insluit, onder andere “J.M.S.P.”, wat volgens F.B. Blom (2010) die eerste Afrikaanse opname in hierdie genre was. Die vrystelling van Bloedrivier is opgevolg deur ’n Europese toer saam met In the Woods en Katatonia, en die snit “Religion” het nommer 4 gehaal op MTV Duitsland se “Most Requested Heavy Metal Videos” (Anon 2002). In 1998 het Francois Breytenbach Blom teruggekeer na Suid-Afrika en Die Kruis gestig, terwyl Paul André Blom voortgegaan het met F8 (beide industriële-metal-projekte). V.O.D. het in 1999 ontbind, maar wel tien jaar later vlugtig weer byeengekom vir ’n reünie-toer.